RUSTIES IS BLOEDSKENK HELDE!

Op 19 Maart 2021 het die Rusties die bloedskenkgemeenskap se hande sterk gemaak deur bloed te skenk en so lewens te red hier op ons skoolgronde se onthaallokaal.

Die maklikste manier om ‘n held te wees, is deur bloed te skenk. Dink só daaraan – as jy elke 56 dae jou moue oprol, maak jy dit vir drie mense moontlik om meer tyd saam met hulle geliefdes deur te bring.

Deur ʼn verskil in ander mense se lewens te maak, kan ook jul gevoel van welsyn verhoog. Julle moet trots wees op julle barmhartige Rustieharte wat bloed na julle are toe pomp. Thabo Leseni werk al 3 jaar vir SANBD en verduidelik dat hulle staatmaak op skole soos Hoërskool Rustenburg om die tekort aan bloed, wat tydens die inperking COVID-19 onstaan het, te herstel en sodoende meer reserwes te kry. Thabo sê, “In die eerste uur van ons aankoms, was daar rye leerders gereed om bloed te skenk. Ons is dankbaar vir RHS se bydrae en juffrou Anri en haar span. Julle is staatmakers!”

Juffrou Anri is baie trots op die Rusties se ondersteuning en die rooistrikkies wat hulle gedra het ter ondersteuning. Daar is nog drie bloedskenkgeleenthede die jaar. As jy 16 of ouer is, kan jy ook help en lewens kom red.

 

– Minette Kloppers

April 10, 2021

RUSTIE BLOEDSKENK

RUSTIES IS BLOEDSKENK HELDE! Op 19 Maart 2021 het die Rusties die bloedskenkgemeenskap se hande sterk gemaak deur bloed te skenk en so lewens te red […]