Sosiaal

Sosiaal

 

As elke leerling by RHS ʼn boom is wat sy wortels moet skiet en goeie vrugte dra, is daar sonskyn nodig, nie waar nie?

By RHS is sosiaal die giggelgeel sonskyn wat elke Ficus-boompie laat groei!

Hier het ons nie net Vinnige Vleisie Vrydae, Groot Gerase, Sosiale week en die Lentedans om na uit te sien nie, maar vanaf 2019 is die Rustie-rasers ʼn amptelike geesvanggroep vir die luidrugtiges onder ons wat ontplof van Rustie-trots.

Vinnige Vleisie Vrydae is een Vrydag per kwartaal waar al die grade kyk wie se vleis – en gees – die sappigste is.  Jy bring jou gasbraaier en jou vleisie terwyl jy tydens ʼn lang pouse met jou vriende kuier.  Hier het almal dan een ding in gemeen: Die hoendervleislekkerwete dat RHS definitief bewe van gees!

Die Groot Gerase is daar om die skool voor groot sportbyeenkomste op te sweep en om te spog met die sportspanne wat deelneem.  Hierdie Donderdagaande is propvol graaduitdagings en –kompetisies, oorverdowende massas Rusties wat kompeteer om hul graad se gees te verteenwoordig. Selfs ons onderwysers – jonk en oud – huiwer nie om te wys hoe groen hul bloed pomp nie! Kom ons wees eerlik … sonder meneer John is Samsara net nie dieselfde nie en niemand kan wag om te sien in watter kostuum hy hierdie keer gaan opdaag nie…!

Sosiale week is gewoonlik net voor Noordwes –interhoëratletiek waar die sosiale raad dagaktiwiteite tydens pouses hou om te sien wie die meeste gees in RHS het.  Hierdie jaar was dit Meneer- en Mejuffrou Fiksheid.  Ons hou dit eenvoudig – gr. 8’s is gebruik as gewigte om te kyk watter spiertier die “swaarste gewig” kan optel.  Op die Woensdag van daardie week hou ons “Watch me dance Wednesday”.  Langarm, sokkie, net wat jy dit wil noem, is dan aan die orde van die dag.

Die sosiale raad hou een lewensgrote dans in September. Die Lentedans.  Dan is die winter verby en die bloeisels (soms die liefde ook) bot.  ʼn Lekker musiekfabriek word ingespan en daar is selfs sprake dat daar hierdie jaar ʼn baie bekende gaan wees wat die aand gaan opkikker … hou dus hierdie spasie dop…!

Die Rustie-rasers, soos reeds genoem, is ʼn elite- groep geesvangers wat geesvang as buitemuurs beoefen.  As jy dus soveel energie het dat slegs ʼn pawiljoen op ʼn Saterdag voldoende is om uiting te gee daaraan, is die Rustie-rasers jou voorland.  Hierdie ongeveer 150 leerlinge dra hul eie Rustie-raseruniforms met trots tydens ʼn sekere aantal verpligte geleenthede by die skool.  Jy sê “rent-a-crowd”, ons sê ons doen dit uit liefde en trots vir RHS!

Elke jaar kies ons nuwe Rasieleiers – hulle staan voor met geesvang en lei die skool tydens Groot Gerase, sportperiodes en Rustie-raserbyeenkomste.  Is jy buitengewoon, luidrugtig, energiek en loop oor van Rustiegees en – trots? Dan is die Rasieleierloopbaan een waarna jy in gr. 12 kan uitsien.

Dit is duidelik dat jy by RHS ʼn gebalanseerde leefstyl sal hê.  Wanneer akademie jou brein soos roereier laat voel, wanneer jou spiere pap geoefen is en jou kultuursiel net wil ontspan … sal RHS- Sosiaal jou verlepte takkies weer nuwe lewe gee!