goue stemme

KOORLEDE – TALENTVOL TOEGEWYD

 

Dié beroemde RHS-koor het tydens die ligter Covid19-regulasies aangehou oefen. Elke Woensdag het hulle drie ure lank geoefen – en dis natuurlik een van die redes waarom hulle met twee YouTube-treffers wat elk al derduisende kere gekyk is, kan spog.

Die 77 koorlede– soprane, alte, tenore en basse – bring beslis hul kant wanneer hulle die kans kry. Die toegewydheid van die lede gekomineerd met die leiding van twee wonderlike afrigters, naamlik juffroue Madeleen Koch en Lize Meyer, help die koor om voort te bou op hul sukses van die verlede.

Ek, Lezandri, ʼn trotse leerder van die Hoërskool Rustenburg, het ʼn besonderse kooroefening bygewoon. Die koor het my asem asook dié van die voornemende graad 8’s wat die inry-opedag bygewoon het, weggeslaan. Die koor is uniek en dit is ‘n belewenis om te hoor hoe hulle as ʼn groep sulke kragtige harmonieuse klanke voortbring. Elke leerder is toegewyd en daarom word daar hard en doelgerig geoefen.

Koorlede is trots om deel te wees van die groep en vir baie van hulle voel dit soos ‘n veilige hawe, ‘n plek waar hulle hulself kan wees, kan ontspan en hul talente uitleef. Die twee graad 12-koorvoorsitters, Amoré Du Plessis en SD Jacobs, is oortuig dat die koor spesiaal is.

Amoré sê: “Koor is my familie by die skool waar ek van al my probleme kan vergeet en net doen waarvan ek hou.”

SD Jacobs sluit by haar aan: “Met elke aktiwiteit vorm daar samehorigheid in die koorgroep. Ek is trots om in die koor te wees, want die koor is ongelooflik goed!”

Amoré en SD, koorvoorsitters

Hoewel kooroefening voorlopig gestaak is as gevolg van die derde golf van Covid, sal leerders vashou aan dit wat hulle geleer het in die hoop dat hulle vinnig weer saam kan sing.

Thsepo Mosikitlane, graad 12-koorlid, sê: “Ek het nooit geweet ek kan sing totdat ek vir die ervaring kooroudisies gaan doen het nie. Ek is as ‘n bas gekies en is van toe af deel van die span. Ons koor kry soms die geleentheid om saam met ‘n band te oefen. Dit is anders en skep ‘n lekker atmosfeer.”

Marli voel ook koormense is haar mense. “Ek hou daarvan om deel te wees van die koor, want dadelik toe ek daar ingestap het, het hulle my dadelik laat welkom voel.”

Stefan las by: “Ek kan my diepste gevoelens deur musiek uitdruk. Ek glo sang is iets wat ingeoefen moet word soos juffrou Koch gereeld herinner: Dis ‘n spier wat mens moet oefen. Die koor is ‘n plek waar enigiemand aanvaar word en waar jy jou passie vir musiek kan uitleef.”

Nadat ek met die koorlede gepraat het weet ek dat hulle met hul positiwiteit, passie en toegewydheid gaan voortbou op die legende van die Rustie-koor. Hoewel hulle vir eers terugstaan en hulself veilig hou is daar ook planne in die pyplyn om nog ‘n video te maak. Hulle gaan beslis nie toelaat dat Covid-19 hulle terughou nie.

Indien jy graag weer die Bohemian Rhapsody koor-treffers wil besigtig klik hier en vir Coldplay se Fix You klik hier.

 

– Lezandri Coertze en Bernadine Janse van Rensburg

Maskers is afgehaal vir van die foto’s.

 

May 27, 2021

RHS KOOR 2021

KOORLEDE – TALENTVOL TOEGEWYD   Dié beroemde RHS-koor het tydens die ligter Covid19-regulasies aangehou oefen. Elke Woensdag het hulle drie ure lank geoefen – en dis […]
April 19, 2021

KOORKAMP 2021

RHS SE GOUE STEMME 9 April 2021. Vandat jy opstaan, sien jy die sonlig oor die Kosterdam speel. Singende stemme wat hoendervleis laat opkruip van jou […]