verskil

Rustenburg gemeenskap se verskilmakers

19 Augustus 2021. Die Hoërskool Rustenburg was bevoorreg om te midde van die Covid-19-pandemie die Mnr. en Mej. Rustie- (MMR) kroningsgeleentheid te hou. Slegs ‘n beperkte hoeveelheid toeskouers kon die geleentheid bywoon.

Beoordelaars MMR

MMR Beoordelaars

Vanjaar se MMR-finaliste was Stefan Steenkamp en Shakira Peach,Pieter Steenkamp en Marli Visser, Eric Thiart en Tiané Visser, Reghart Pieterse en Nia Viljoen, Hanco Stone en Isé-Marie Erasmus, Zander Hechter en Zenanke Voster, Jeandré Fenner en Natasha van Schalkwyk, Jayden de Fourtier en Christen Olivier, Juan-Jacques Viljoen en Landri Janse van Rensburg, en Izak Visser en Jamy Human.

Hoewel die MMR ‘n Rustie-instelling is en ‘n aand waarna almal uitsien, het dit deur die jare ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. In 2008, onder leiding van Werner Muhl, kultuurvoorsitter, is besluit om die geleentheid aan te bied as ‘n hoëklas-, gesofistikeerde en afgeronde geleentheid. Beoordeelstate lê klem op kommunikasie met individue en die gehoor, taalgebruik, persoonlikheid en karakter wat moet oorkom. “In 2011 het ons besluit MMR moet iets buite in die gemeenskap doen. MMR moet as aktiwiteit waarde toevoeg – skoonheid met ‘n verskil. Ons wou die waarde, diensbaarheid, tasbaar maak. Elke paartjie kon self hul projekte identifiseer.”

Later jare is ‘n lys van projekte en paartjies opgestel en kandidate kan uit die lys kies. Paartjies word wel steeds toegelaat om iets nuuts te doen indien hulle ‘n passie vir ‘n spesifieke instansie of groep het. Daar is ook besluit om elke jaar ‘n celeb te nooi om tydens die onderhoude en die kroningsgeleentheid ons skool beter te leer ken en om tydens die kroning ‘n postiewe getuigskrif oor RHS te lewer.

MMR is baie meer as net ‘n sosiale geleentheid. Die klem is op ‘gee aan ander’, om op te tree tot voordeel van ander. Hierdie ingesteldheid wil die kultuurraad by al 20 finaliste vestig.

Die RRR het ‘n onderhoude gevoer met van die paartjies om meer uit te vind oor hierdie jaar se gemeenskapsprojekte en persoonlike groei wat die deelnemers ondergaan het.

Landri Janse van Rensburg (gr. 10) en Juan-Jacques Viljoen (gr. 11) se gemeenskapsprojek was die Lighthouse Kinderhuis.

Landri sê: “Ons het gesien dat aandag en om in die kinders se behoeftes te voorsien, hulle gelukkig gemaak het.” Vir Landri was hierdie ook ‘n persoonlike groeiervaring, sy sê dat sy haarself leer ken het en sy kon haar passie om kinders te help uitleef. Dit haar so geinspireer dat sy onderwys as ‘n loopbaankeuse oorweeg.

Shakira Peach (gr. 10) en Stefan Steenkamp (gr. 11) was betrokke by Blooming Tree Academy vir outistiese kinders. Hulle het die speelgrondmuur opgevrolik met verf om die kinders beter te laat verstaan wat sekere goed beteken.

Stefan sê: “Dit het vir my net weer bevestig dat om iets te gee is ‘n groter geskenk as om iets te ontvang.”

Shakira sê: “My pa het my geleer dat mense jou drome moet  najaag en dit sluit aan by my lewens-motto, ‘n bekende sêding van Walt Disney: ‘If you can dream it, you can do it’.”

Jamy Human (gr. 11) en Izak Visser (gr. 11) se projek was om iets spesiaals toe te voeg by die skool se arboretum – ‘n gedenktuin wat onderwysers vereer wat baie jare by RHS was.

Izak sê: “Die plan met die gedenktuin is om onderwysers wat al langer as dertig jaar skool gehou het by die Hoërskool Rustenburg, se name op die pilare te sit. Die pilare is daar gebou waar ’n mens by die skool se geboue verbyry. Dis om dankie te sê vir hul bydrae by die skool oor die jare.”

Zenanke Voster (gr. 11) en Zander Hechter (gr. 11) het ‘n groot verskil by Spes Bona gemaak. Hulle het groente geplant, gebreekte kombuiskaste vervang, breekware vir die mense aangekoop en hulle drukpomp herstel.

Zenanke sê: “Dit gaan oor jy as mens wat ‘n verskil in die gemeenskap maak, daarom het die gemeenskapsprojek vir my regtig uitgestaan tydens hierdie ervaring.”

Marli Visser (gr. 11) en Pieter Steenkamp (gr. 11) het ‘n groot bydrae by Residentia Ouetehuis gemaak. Hulle het beddegoed ingesamel, die kamers oorgedoen en tyd saam met die oumense spandeer wanneer hulle kon en indien Covid-regulasies dit toegelaat het.

Marli sê: “MMR was iets buite my gemaksone. Ek het baie tydens die ervaring geleer en dit vreeslik geniet. Dit is goed om iets anders te probeer.”

Daar was ‘n live-stream beskikbaar vir kykers by die huis om die aand van die gemak van hul sitkamerbank te kon bywoon. Paartjies het eers met hulle skoolklere die loopplank betree. Daarna het die seuns spoggerig gelyk met pakke langs hul metgeselle uitgevat in lang, vloeinde rokke. Paartjies het ook dan saam met Hano van der Walt, die gasheer van die aand, hul plekke ingeneem in die sitkamer. Videos het gespeel wat die gehoor meer vertel het van elke paartjie se gemeenskapsprojek. Daarna moes deelnemers interessante vrae beantwoord en vir ‘n laaste keer ‘n draai op die loopplank maak.

Die spanning het hoog geloop toe juffrou Geldenhuys vorentoe geroep is, koevert in hand, om die wenners van elke kategorie te lees.

 

Mnr Rustie: Hanco Stone

Mej. Rustie: Zenanke Vorster

Meneer en Mejuffrou Rustie 2021

1ste Prins: Jeandre Fenner

1ste Prinses: Ise-Marie Erasmus

2de Prins: Jaydin de Fortier

2de Prinses: Natasha van Schalkwyk

Beste paartjie: Shakira Peach & Stefan Steenkamp

Mnr. Persoonlikheid: Hanco Stone

Mej. Persoonlikheid: Marli Visser

Mnr. Fotogenies: Juan-Jacques Viljoen

Mej. Fotogenies: Jamy Human

Zenanke sê dat sy baie trots is om aangewys te word as die jaar se Mej. Rustie. Sy kan haar skool se naam uitdra. Vir haar is dit meer as net ‘n titel – dis ‘n geleentheid om die skool te bevorder en ‘n verskil in die skool te maak.

 

 

– Bernadine Janse van Rensburg

August 31, 2021
MMR 2021

MENEER EN MEJUFFROU RUSTIE 2021

Rustenburg gemeenskap se verskilmakers 19 Augustus 2021. Die Hoërskool Rustenburg was bevoorreg om te midde van die Covid-19-pandemie die Mnr. en Mej. Rustie- (MMR) kroningsgeleentheid te […]